Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
Is Wonderwerke nog Werklik in vandag se Werkplek? Dit is 'n vraag wat baie debat kan ontlok, maar dit is met absolute oortuiging dat ek vandag vir jou kan sê dat God nog gereeld wonderwerke in die werkplek doen.
Die probleem is egter – die post-moderne mens van ons dag wil 'n kitsoplossing vir alles hê. Ons het ook vooropgestelde idees oor hoe die oplossing moet lyk. Ons is so ingelig, al so sinies gemaak deur lewensgebeure en so gewoond aan die goeie, dat dit baie moeilik is om God onvoorwaardelik en kinderlik te glo. Juis daarom gebeur dit gereeld dat ons, ons wonderwerk mis of doodgewoon net nie eers raaksien wanneer God vir ons ‘n wonderwerk doen nie.
Die volgende verhaal illustreer hierdie feite baie goed:
Daar was 'n sekere besigheidsman in Mexico wat 'n uitvoermaatskappy gehad het. Die enigste manier hoe hy sy trokke oor die grens kon kry, was om die beamptes omkoopgeld te betaal. Sy besigheid was baie florerend en hy het goed geld gemaak. Nadat hy tot bekering gekom het, het die Heilige Gees hom daarvan oortuig dat dit die verkeerde manier is om besigheid te doen. Hy het besluit om met integriteit op te tree en ‘n kans te vat om sy volgende besending sonder omkoopgeld oor die grens te stuur. Die gevolg van hierdie besluit was dat hy al vyf trokke sowel as die vrag in totaliteit verloor het. Nie eers 'n skroef van ‘n trok het weer by die regmatige eienaar uitgekom nie.
Dit het hom baie moedeloos gemaak. Hy het egter geweet dat hy nie die vrede wat hy na sy bekering ervaar het, kon prysgee nie, ongeag wat ookal gebeur. Die enigste oplossing was om alles te verkoop en weg te trek na 'n ander land waar hy met 'n nuwe besigheid begin het. 'n Jaar en half later val die waarde van sy oorspronklike plaas met 50%, drie maande later met 'n verdere 25% en nog drie maande later het die regering eenvoudig die plaas opgeëis. Indien hy op die plaas aangebly het, sou hy alles verloor het en nie net die vyf trokke nie. Sy “wonderwerk” was dus die oorspronklike negatiewe gebeure van vyf trokke wat afgeskryf en gesteel is.
Net so gebeur daar negatiewe dinge in ons daaglikse handel en wandel waarvoor ons God baie keer verkwalik. Ons vra vrae, wonder oor die goedheid van God en beskuldig hom selfs van tyd tot tyd.
Die rede hiervoor lees ons in Hos. 4:6: "My kinders gaan ten gronde a.g.v. 'n gebrek aan kennis". Dit word elke dag gedemonstreer wanneer ons so sukkel om God te vertrou. Indien ons die Woord ken en dit ons eie maak, sal ons met meer vertroue wag op God se antwoord. Hy belowe ons in Jer. 29:11 dat hy goeie planne vir ons het, planne van voorspoed en 'n hoopvolle toekoms. In Ps. 27:30 lees ons dat hy 'n welbehae in ons voorspoed het. Aan die kruis het Hy ons straf gedra sodat ons vrede kan hê, Hy is sonde gemaak sodat ons die geregtigheid van God kan wees, Hy het 'n vloek geword sodat ons die geseëndes kan wees, Hy het arm geword sodat ons ryk kan wees en Hy het al ons siektes op hom geneem sodat ons gesond kan wees. Hy het dus die volmaakte werk reeds vir ons gedoen. Al wat ons moet doen, is om Hom te vertrou.
Wanneer ons hierdie vertroue in Hom het, sal ons Werklike Wonderwerke in die Werkplek sien wat sal veroorsaak dat ons die 1SOTERIA-seëninge van JESUS sal ervaar.
1Soteria – Algehele welstand











